Bisantynse Ryk

Imperium Romanum
Βασιλεία Ῥωμαίων
Basileía Rhōmaíōn

Oos-Romeinse Ryk
Bisantynse Ryk

330 – 1453
Vlag Wapenskild
Vlag Wapen
Ligging of Bisantynse Ryk Βυζάντιο[ν] Byzantium
Ligging of Bisantynse Ryk
Βυζάντιο[ν]
Byzantium
Die Bisantynse Ryk in sy grootste uitbreiding in 555 onder keiser Justinianus I.
Hoofstad Konstantinopel
Taal/Tale Latyn (tot 620)
Grieks (ná 620)
Godsdiens Oosters-Ortodokse Kerk
Regering Monargie
Wetgewer Senaat
Historiese tydperk Middeleeue
 - Stigting van Konstantinopel 11 Mei 330
 - Ottomaanse verowering van Konstantinopel 29 Mei 1453
Bevolking
 - 4de eeu skatting 34 000 000 
Geldeenheid Solidus
Hyperpyron
rmn-military-header.png

Stigting van Rome
Romeinse monargie
Romeinse Republiek
Romeinse Keiserryk
Wes-Romeinse Ryk
Oos-Romeinse Ryk

Deel van 'n reeks oor die
Geskiedenis van Griekeland
Kaart van Griekeland
Griekse Bronstydperk
EgeïesHelladiesSikladiesMinoïesMiceens
Antieke Griekeland
Donker eeueArgaïesKlassiekHellenistiesRomeins
Middeleeuse Griekeland
BisantynsFrankies en LatynsOttomaans
Moderne Griekeland

Die Bisantynse Ryk (Grieks: Βυζαντινή Αυτοκρατορία, amptelik steeds Βασιλεία τῶν Ῥωμαίων "Keiserryk van die Romeine", eietyds kort Romania of Ῥωμανία genoem), dikwels kort Bisantium (Grieks: Βυζάντιο[ν]) of, vanweë sy historiese oorsprong, die Oos-Romeinse Ryk, was 'n keiserryk in die oostelike Mediterreense gebied. Dit het in die laat Oudheid ná die verdeling van die Romeinse Ryk in 395 uit sy oostelike helfte ontstaan en het met die Osmaanse verowering van Konstantinopel op 29 Mei 1453 ondergegaan.

Die Ryk het aanvanklik tot by die Arabiese Skiereiland en in die weste tot Noord-Afrika en die Atlantiese Oseaan gestrek, maar was vanaf die 7de eeu rofweg tot Klein-Asië en Suidoos-Europa beperk. Dit is vanuit die hoofstad Konstantinopel (die huidige Istanboel) geregeer wat ook as Bisantium bekend gestaan het.

Die bekende bisantinis Georg Ostrogorsky het die Bisantynse Ryk as 'n mengsel van Romeinse staatswese, Griekse kultuur en Christelike geloof beskryf.[1]

Die benaming "Bisantynse Ryk", wat van die hoofstad afgelei is, word uitsluitlik in die moderne navorsing gebruik. Die bewoners van die ryk het na hulself nie as Bisantyne verwys nie, maar steeds as Romeine (in die moderne wetenskaplike konteks word die term "Rhomeërs" gebruik). In die Latynse weste is na hulle as Grieke verwys.

Die geskiedenis van die Bisantynse Ryk word in die moderne geskiedskrywing en navorsing in drie fases verdeel:

  • die laat antieke en vroeg-Bisantynse tydperk (vanaf die laat 3de/vroeë 4de eeu tot die middel van die 7de eeu), toe die ryk nog herkenbaar antiek-Romeinse trekke gehad en as groot moondheid die hele oostelike Middellandse Seegebied oorheers het;
  • die Middel-Bisantynse tydperk (vanaf die middel van die 7de eeu tot 1204/1261), toe die ryk reeds volledig vergrieks was en ná groot gebiedsverliese weer as belangrike moondheid opgetree het;
  • die laat-Bisantynse tydperk (1204/1261 tot 1453) toe die ryk steeds meer gebiedsverliese gely en op politieke gebied geen beduidende rol meer gespeel het nie.

Naas hierdie tradisionele periodisering is daar ook alternatiewe sienswyses. In die meer onlangse navorsing is daar neigings om eers vanaf die laat 6de of 7de eeu van 'n suiwer Bisantynse geskiedenis te praat en vroeëre periodes nog by die laat-Romeinse oudheid te reken.[2]

Hierdie stelling is omstrede, veral omdat ander bisantiniste vrees dat hul vak aan belangrikheid sou kan verloor indien die laat-antieke fase van die ryk volledig by die geskiedenis van die klassieke Oudheid gereken sou word.

Die geskiedenis van die Bisantynse Ryk is deur 'n byna permanente afweerstryd teen vyandelike magte langs sy grense oorheers wat die Bisantyne se kragte verteer het. Fases van uitbreiding (ná gebiedsverliese in die 7de eeu is veral in die 10de en 11de eeu nuwe streke verower) het mekaar afgewissel met fases waartydens die Bisantyne teruggetrek het (so in die laat tydperk van die ryk toe sy kragte uitgeput was).

Die binnelandse gebeure is, veral tot in die 9de eeu, verskeie kere deur godsdienstige dispute en enkele burgeroorloë oorheers, alhoewel die staatswese, wat op Romeinse strukture gebaseer was, tot in die 13de eeu onveranderd gebly het. Op kulturele gebied het Bisantium beduidende literêre en ander kunswerke opgelewer en as bemiddellaar van die antieke erfenis 'n beduidende rol vir die Europese beskawing vervul. Die kodifisering van die Romeinse reg onder keiser Justinianus I sou die basis vir die regstelsels van Europese state lewer.[3] Daarnaas het die Bisantynse Ryk beslissende invloed op die kerstening van Oos-Europa (die Balkanskiereiland en Rusland) uitgeoefen en tot in die 15de eeu as 'n Christelike vesting in die ooste bestaan wat alle aanvalle van Islamitiese magte afgeweer het.

  1. Georg Ostrogorsky: Geschichte des byzantinischen Reiches. Handbuch der Altertumswissenschaft XII 1.2, 3de uitgawe, München 1963, bl. 22
  2. Soos byvoorbeeld in Peter Schreiner: Byzanz. 3de uitgawe, München 2008. Schreiner stel voor dat daar eers ná die afsterwe van Justinianus I (527-565) sprake kan wees van 'n "Bisantynse" periode; dus vroeg-Bisantyns vanaf die laat 6de tot die 9de eeu, Middel-Bisantyns vanaf die 9de eeu tot 1204 en laat-Bisantyns tot en met 1453. Die Cambridge History of the Byzantine Empire , wat in 2008 gepubliseer is, behandel die tydperk tussen die 6de en 15de eeu. John Haldon, 'n leidende deskundige, beskou die 7de eeu as die beslissende beginpunt van 'n Bisantynse geskiedenis in eie reg: John Haldon: Byzantium in the Seventh Century. The transformation of a Culture. 2de uitgawe. Cambridge 1997. Vergelyk ook: Mischa Meier: Ostrom-Byzanz, Spätantike-Mittelalter. Überlegungen zum „Ende“ der Antike im Osten des Römischen Reiches, in: Millennium 9 (2012), bl. 187-254
  3. Michael Grant: Morgen des Mittelalters. Völker und Reiche in der spätantiken Welt. Bergisch Gladbach: Gustav Lübbe 1982, bl. 16